Wil jy met ons praat?
As jy enige vrae het oor jou polis of oor hierdie e-pos, sal ons graag van jou hoor. Skryf aan [email protected]

Is jy op soek na ons?
Besoek ons webtuiste gerus by www.libertylife.co.za

    Liberty Maandelikse Kommunikasie Januarie 2010

Ons wil graag al ons kliënte 'n baie gelukkige Nuwe Jaar toewens. Ons hoop jy gaan die jaar uitgerus en vernuwe tegemoet, gereed om die uitdagings en geleenthede van 2010 aan te pak. Die begin van 'n nuwe jaar is altyd 'n goeie geleentheid om 'n mens se lewe in oënskou te neem, om te verstaan wat jy reeds bereik het en waarna jy in die jaar wat voorlê, wil streef.

Ons het besluit om jou geleidelik die jaar in te begelei met 'n nuusbrief wat jou 'n opsomming van die jongste ekonomiese nuus gee en 'n paar wenke insluit oor hoe om jou finansies met jou persoonlike lewe te balanseer.

Ekonomies word daar nie verwag dat 2010 groot omwentelinge gaan meebring nie, maar ons sien wel uit na 'n matige ekonomiese herstel. Suid-Afrika is baie gelukkig om die Wêreldbeker hier te kan aanbied, omdat dit herstel sal aanhelp deurdat werksgeleenthede geskep sal word en ons 'n sielkundige hupstoot sal kry wat die vertroue van ons verbruikers en besighede sal verbeter.

Inflasie het reeds terugbeweeg in die teikenbaan en dit behoort minstens vir die eerste helfte van die jaar onder beheer te bly. Ongelukkig sal Eskom se prysstygings opwaartse druk op inflasie plaas en daar is ook 'n sterk moontlikheid dat rentekoerse later in die jaar sal styg. In die eerste kwartaal van 2010 mag daar dalk verdere werkverliese wees en ons verwag eers later in die jaar, wanneer ondernemings die positiewe uitwerking van die ekonomiese herstel sal begin voel, 'n verbetering in die werkloosheidsituasie.

Alles in ag genome, sal 2010 na verwagting vir die meeste mense 'n beter jaar wees, ongeag die feit dat ons steeds in die proses sal wees om die gevolge van verlede jaar se resessie af te skud.


Nuwejaarsvoorneme vir jou finansies

Stel aan die begin van elke jaar 'n balansstaat op wat jou sal help om jou huidige finansiële situasie te verstaan en mikpunte te stel. Dit is nie so moeilik soos dit klink nie en ons het 'n balansstaat in die nuusbrief ingesluit om jou aan die gang te kry. Al wat nodig is, is die volgende:
  1. Maak 'n lys van al jou bates en die huidige waarde daarvan - jou huis, motor, pensioenfonds, spaargeld, polisse, ens.
  2. Maak 'n lys van al jou laste (uitstaande skuld) en die huidige waarde daarvan - huisverband, motorfinansiering, oortrokke rekeninge, winkelrekeninge, ens.
  3. Vergelyk die totale waarde van jou bates met die totale waarde van jou laste.
Gebruik nou hierdie balansstaat om elke jaar jou finansiële posisie in oënskou te neem. Dit sal vir jou 'n aanduiding gee of jy finansieël voor- of agteruitgaan. Om te verseker dat jy elke jaar vooruitgaan, moet jy op twee dinge konsentreer: skuld en spaargeld. Deur jou skuld af te betaal, verminder jy jou laste. Deur jou spaargeld te vermeerder, vergroot jy jou bates.

Behels jou maandelikse skuldvereffening meer as 40% van jou inkomste? Indien wel, moet jy eerstens op jou skuld konsentreer. Betaal nou soveel af as wat jy kan, omdat rentekoerse na verwagting teen die einde van die jaar weer sal styg.

Nuwejaarsvoorneme vir jou lewe

Dit is net so belangrik om 'n gesonde finansiële balansstaat te hê as wat dit is om ons tyd te balanseer. Maak 'n nuwejaarsvoorneme om meer tyd te bestee saam met mense wat jou gelukkig maak: sowel familie as vriende. Die volgende storie, uit 'n e-posboodskap wat reeds verskeie jare die ronde doen, illustreer die belangrikheid daarvan om tyd aan onsself en ons geliefdes te bestee.

Die mayonnaise-fles en twee koppies koffie

'n Professor staan voor sy filosofie-klas met 'n paar items voor hom.

Aan die begin van die klas tel hy woordeloos 'n baie groot, leë mayonnaise-fles op en begin dit met gholfballe vul. Hy vra die klas dan of die fles vol is. Ja, sê hulle.

Die professor tel dan 'n houertjie met klippies op en gooi hulle ook in die fles. Hy skud dit liggies. Die klippies rol in die openinge tussen die gholfballetjies in. Hy vra weer of die fles vol is. Inderdaad, sê die studente.

Vervolgens tel die professor 'n houer met sand op en maak dit ook leeg in die fles. Hy vra weer eens of dit nou vol is. Ja, stem al die studente saam.

Nou bring die professor twee koppies koffie te voorskyn wat hy onder die tafel uithaal en hy gooi die inhoud van albei in die fles - wat letterlik die oorblywende ruimtes tussen die sandkorrels vul. Die studente lag.

Toe die gelag bedaar sê hy: "Ek wil hê julle moet die fles as verteenwoordigend van elkeen se lewe sien."

"Die gholfballe is die belangrike dinge: jou geestelike lewe, jou gesin, jou kinders, gesondheid, vriende en gunsteling tydverdrywe. Al sou jy alles in jou lewe verloor behalwe dit, sou jou lewe nog vol wees."

"Die klippies is die dinge wat saak maak, soos jou werk, jou huis en jou motor. Die sand verteenwoordibg die res: die klein dinge."

Hy gaan voort: "As jy eerste die sand in die fles sit, bly daar geen plek oor vir die klippies of gholfballetjies nie. Dieselfde geld vir die lewe. As jy al jou tyd en energie aan die klein goed bestee, sal jy nooit tyd hê vir die dinge wat vir jou belangrik is nie."

"Gee aandag aan die dinge wat onontbeerlik is vir jou geluk."
"Speel met jou kinders."
"Gaan gereeld vir mediese ondersoeke."
"Neem jou lewensmaat uit vir ete."

"Daar sal altyd tyd wees om die huis skoon te maak en die druppende kraan te herstel. Maak eers moeite met die gholfballe - die dinge wat werklik saak maak. Bepaal jou prioriteite. Die res is net 'sand'."

Een van die studente steek haar hand op en vra wat die koffie voorstel. Die professor glimlag. "Ek is bly jy vra. Dit is net om te wys dat, hoe vol jou lewe ook al blyk te wees, daar nog altyd plek is vir 'n paar koppies koffie saam met 'n vriend."


Dankie vir die terugvoer wat ons sover op hierdie nuusbriewe ontvang het. Jou opmerkings en voorstelle sal ons help om jou van relevante inligting te voorsien om jou finansies te beplan en te bestuur.

Praat asseblief gereeld met ons en sê wat jy dink. Jy kan jou kommentaar per e-pos stuur aan [email protected]

As jy nie 'n finansiële adviseur het nie, maar wel vrae het oor jou polis, skakel ons asseblief by 0860 456 789 of skryf e-pos aan [email protected]

Vriendelike groete

Steven Braudo
Hoof uitvoerende beampte: Liberty Versekering


 

As jy enige vrae het oor jou polis of oor hierdie e-pos, sal ons graag van jou hoor. Skryf aan [email protected]